(A post from Cecile’s Facebook)
Aan die einde van die teerpad lê Loeriesfontein.
Daar waar die laaste stukkie teer net ‘n formaliteit is. Waar die wit bakkies stadiger ry, waar die stof stadiger gaan lê. Waar die windpompe nog met status waardig draai soos die wind groot stil erwe skoonvee. Waar hane pronkerig kraai terwyl skaaphonde waaksaam lê. Daar waar gastekamers tuistes is, en gasvroue soos familie voel. Waar stilte nog ‘n ereplek beklee, en die maan nie meeding met stadsligte nie. Waar die hond van langsaan jou aanneem en vergesel op aandstappies.
Aan die einde van die teerpad stap mens in by Hongerblom kontreiwinkel waar Celeste jou soos familie groet. Jy drink heerlike koffie en eet ‘n ontbyt wat 5 sterre verdien. Proe en koop hemelse dadelballetjies en luister hoe ‘n paar plaaslike boere gesels. Snuffel deur unieke en eerlike produkte, koop, gesels nog ‘n bietjie…
Ry nog ‘n draai deur die dorp, en wonder wat die verskil is tussen die einde van die teerpad en die einde van die reënboog.
