Ouma Roux

My ouma – my pa se ma – het my kleintyd basies grootgemaak. Ek was haar witbroodjie.

Sy en Oupa het gewoon in Stockleyweg 75, langs die treinspoor, in die Kaapse vlak – hulle hele getroude lewe lank.

26 Augustus 2012 – Oupa se 100ste verjaardag. Ek en pa spandeer ‘n paar oomblikke voor Stockleyweg 75. Pa was in hierdie huis gebore. Oupa was ‘n patriargale figuur vir die Roux-family. Hy is oorlede ‘n paar jaar voor hierdie foto geneem is. Alles in en om die huis het verander – behalwe die adres. Oupa en Ouma het hier gewoon vir langer as 60 jaar. As hierdie huis kon praat…

Stockleyweg 75 was die familie se baken, bymekaarkom-plek, teedrink-plek, Kersfeesplek, goeie nuus-plek, slegte nuus-plek, lag-plek, huil-plek….

My ouma was lief vir radio luister (slegs musiek – geen gepratery), vir reën (of reënt soos sy altyd gesê het), en om rondgery te word. Altyd haarself mooi aangetrek vir so ‘n geleentheid.

Sy het ‘n baie aansteeklike skaterlag gehad. Sy was lief vir alle mense. Altyd vir die haweloses (bergies) uitgehelp met ietsie om te eet. Ook baie moslem-vriende gehad.

Soms – wanneer ek weer in die area kom, sal ek in die nou straat voor die huis gaan staan vir ‘n tydjie – terwyl vreemdes deur vensters loer en die honde blaf. En ek my verbeel ek hoor stemme van ouds…

Reënt

Site Footer