‘n Tyd gelede het ek my liefde vir Koerskafees verklaar. En nou-die-dag heel onskuldig by De Karper in Gent my stadsfiets parkeer en ingestap, en myself weer hopeloos verloor. Die affair duur voort…
Maar daar is ‘n ander ding in Vlaandere – minder fietserig – wat ook mens se sosiale lewe kan aantas.
Hulle word genoem “bruin kafees”. Of ‘n “bruin kroeg”. Bruine kroeg of Bruine café, sal die Vlaminge sê (via Sanne, Carl). In eg Wes-Vlaams: Ne brunne cafe (via Pieterjan).
In hierdie moderne tyd van gentrification, modernisering, blink toonbanke en “stylvolle” plastiek-dekorasies in al wat winkel, restaurant of kuierplek is, kry mens tog nog die soort plekke wat al lank bestaan, en nie verander nie. ‘n Soort plek waar toeriste met raserige wieletjies-tasse vir ‘n oomblik inloer, en dan in stilte groot-oog omdraai en met hulle foon die naaste Starbucks probeer vind.
Dis ‘n tipe plek waar mens instap en daar is ‘n ou reuk, en min lig. Baie hout – teen die mure ook – en nie ‘n laptop in sig nie. Daar hang rye swart-en-wit foto’s van mense – dikwels geraam… en dekades oud. Die plek het hoekies en draaie, met ou tafeltjies, en nou gangetjies na die kelder of toilette. Dis gesellig, eenvoudig, oud, informeel. En die mure en plafon is – behalwe vir die hout – bruin van al die jare toe rook in die binnekant nog wettig was.
Dis waar die “BRUIN” vandaan kom: die donker binnekant.
Mens kry hierdie tipe plekke in Nederland en Vlaandere, en sekerlik elders ook. Die Iere – met hulle tradisionele pubs en besondere musiek en bekende kultuur hiervoor – sal seker nie vreeslik beïndruk wees nie. Maar in Vlaandere is die Vlaamse kultuur die tema – sonder dat die Vlaminge self dit altyd bedoel of besef: die maniere van groet, die taal, unieke klanke, stemtone, eet-happies, koers (fiets-sport), en natuurlik… die hemelse biere.
Vir ‘n besoekende Afrikaan met Europese bedrading: ‘n bekoorlike, hart-sagmaak wêreld om jouself in te verloor.
Agter die toonbank werk daar een, dalk twee. Die eienaar (uitbater) is meesal self daar. Die kafee-gangers is plaaslike mense… min toeriste. Vir die plaaslikes is hierdie hulle stamkafee, en hulle is die stamgasten. Dis waarheen hulle gereeld kom… tipies na werk. Hulle sit graag op dieselfde plekke, word op die naam gegroet, en die eienaar ken hulle voorkeur – hulle hoef nie te bestel nie – lig net die voorvinger.
In ‘n bruin kafee kry mens nie etes nie – wel dalk hapjes. Gewoonlik droge worst– stukkies pienkerige, rouerige wors wat ons SA’s dalk sal aansien vir salami (of rou droëwors?).
Of ‘n manjifieke portie gemengd: stukkies salami en blokkies Vlaamse kaas en mostert. Hemels met enige drankie. Mens sien dit oral.

Of natuurlik frietjes: “French fries”. Of “slap tjips” sou ons in SA sê. Maar beide is ‘n belediging. Diep. Want dis NIE Frans nie – dis ‘n Belgiese trots. En dis definitief NIE slap nie! Nee! Hierdie word gemaak van bientje patatten (die tipe aartappel), en word tradisioneel op spesifieke metodes gebraai in beesvet (“ossewit”). Vra maar enige frituur.
Of ‘n emosionele croque monsieur: die regte naam vir ‘n ham-en-kaas toastie – met die lieflikste been-ham.
Emosioneel want dit word aangebied “uit ‘t vuistje“. Maw jy eet dit met jou hand – geen slaaie of eetgerei saam nie. Uit jou vuisie uit. Is dit nie hartverskeurend mooi nie!?
Maar wag. Ek dwaal af.
Weeksjoernaal
Ek spandeer ‘n week in Gent – Ghent soos die buiteland dit spel – hoofstad van Oost-Vlaanderen. Een van die oudste stede in België… waar die Leie- en Schelde-riviere ineenvloei.
Ek werk meesal bedags – die ewige laptop wil net nie laat los nie. Maar elke aand sweer ek wraak teen die korporatief, en kry ek en my stadsfiets rigting: op soek na die rustigheid en tuiskoms van ‘n tradisionele bruine kroeg. Ons volg heelwat agterstraatjies deur die grote Gent, neem ‘n toeriste-fototjie of twee oppad, of stop net om te kyk, te luister. Gent – ‘n universiteitstad – is lewendig. Met jongmense, geskiedenis, verkeer, fietse, kerk-klokke, en groeiende toerisme (maar darem nog nie Brugge nie).
Ek en my fiets se missie: navigeer die stad, vind ‘n bruin kafee, besluit versigtig oor watter een bier, bestel in Vlaams, kry ‘n tafeltjie… en gee jou oor.
Na ‘n uur of drie se nostalgie en heerlikheid en verlang na wie-weet-wat: fiets terug, en gaan slaap.
(Hierdie is nie reviews of beoordelings of aanbevelings nie. Dis maar net hoe dit vir my was. In kort.)
Maandag. Bruine kafee 1: Café den Turk

Legendariese plek. Blykbaar die oudste bruin kafee in Gent – dateer uit die 1200’s. Is reg oorkant die Stadshuis geleë, en daarom ‘n gunsteling-plek vir raadsmense en politieke tipes. Die atmosfeer is nogal heerlik gentleman-agtig. Geen agtergrond-musiek nie – net die kalm atmosfeer van rustige aand-debatte. Oop tot so 04:00 soggens.
Die bier vanaand is die bekende gunsteling en staatmaker: Westmalle Tripel (paar jaar gelede aan my voorgestel in ‘n kafee in Poperinge deur vriendin Veronica). Ernstig goed. Heel straf teen 9.5% – hy debatteer terug. En hy’s ‘n trappist!
Sommiges verkies hierdie een teen kamer-temperatuur – ek hou daarvan lekker koud. Maar skink hom mooi, sê die bierkenners – wys sy kop. En geniet hom staaaaadig.

Jinne… Die moeder van alle tripel blonds?
Ek staar na die geraamde foto’s teen die mure van Gent-persoonlikhede: musikante, digters, dramaturge, politikusse, karakters, en legendariese stamgasten. Die plek is nie baie besig nie – paar mense wat kom en gaan, en ek geniet die tariewe op die drankkaart.
Die rustige Vlaamse gesprekke rondom my in die gedempte lig sypel vreedsaam binnekant toe… soos die bier.
So moet Maandae-aande mos wees.



Dis so 8km se fiets vir my soontoe en terug.

Dinsdag. Bruine kafee 2: Café Afsnis

Meer jongmens-rig. Quirky, hipster, bohemian. Vrolik. Goeie rock-musiek wat luid speel. Deurmekaar meublement – tot ‘n paar skoolstoele ook. Oop tot so 05:00 soggens.
Die bier vanaand is die ontspanne Tripel Karmeliet wat – vreemd genoeg – vir my geskink word en voorgesit word sonder die botteltjie. (Was dit van’t vat!? Nie opgelet nie…). Ek het Tripel Karmeliet geleer ken by fenomenale vriendin Greet in Moorslede. Bietjie soeter as Westmalle, en natuurlik nie ‘n trappist nie. Maar teen 8½% steeds geen speelmaat.

Lieflik – veral saam met die soetpatat frietjes – wat die jong kelnerin sommer gou self vir my maak.

So 10km se fiets soontoe en terug.

Woensdag. Bruine kafee 3: De Karper

Het nie vooraf besef wie of wat De Karper is nie – tot ek hier instap. ‘n Koerskafee by uitstek: die stamkafee van die ongelooflike Gentse Zesdagen (Six days of Ghent). En die uitbater is niemand anders as Ronie Keisse – pa van die superstêr baan-fietsryer Iljo Keisse.
Die plek drup koers (fietsry-sport) – met trofeës en fotos en handtekeninge en fietsparte in elke hoek en teen elke muur en van die bruin hout-plafon af. En daar is genoeg TV-skerms om vandag se Scheldeprijs te kyk.
Ek noem aan meneer Keisse dat ek graag iets plaasliks sal waardeer, maar nie die omgewing se biere ken nie. Hy bied ‘n Gentse Strop aan. ‘n Lekker “fiere” blond. Miskien effe aan die bitter kant, maar heel goed.

‘n Bietjie later sluit ‘n joviale portie gemengd by die Strop aan om my te vermaak terwyl die koers spoed optel.


‘n Behoorlike, regte bruine koerskafee.
Gesluit naweke, maar in die week oop tot 02:00 soggens.
Vir my – so 18km se fiets soontoe en terug.
Ek stap uit met die klanke van saluutjes agter my, en die Vlaamse passie-woorde “de koers is van ons” wat bly maal in my kop.
Hie, man!

Donderdag. Bruine kafee 4: Trappistenhuis

In Trappistenhuis speel die mooiste oue blues-musiek. Dis heerlik donker en bruin binne – met sware kroeg-dekor. Buite in die “son” sit Vlaamse ouens met Andy Capp-kêppe en kleurvolle skoene en maak luide grappe.
Ek vra vir ‘n St Bernardus Tripel… van Watou in die Westhoek. Die bekende botteltjie en glas word voor my neergesit en ek skink self. Aaaii! Wie kan nou ooit iets sê teen ‘n Bernadetje!?
Koper-blond. Seker een van die top 5 wêreld-biere. Nie ‘n trappist nie… maar ‘n groot gunsteling in België. Those who know… know…
‘n Klein hongerte na iets warms oorval my. Die druppende gesmelte Brugge Jonge-kaas van ‘n krôkke monsueer bring heilsaamheid.




Die plek is nie besig vanaand nie, maar lyk of dit ‘n lekker kuierplek kan wees. Dit kan werklik gezellig raak – dink ek – terwyl ek wonder oor Oom Paul se prentjie op die ou Krüger Pils advertensie teen die muur oorkant my.
Trappistenhuis is oop tot 02:00 soggens.
So 9km se fiets vir my heen-en-weer.

Vrydag. Bruine kafee 5: Marimain

Weer ‘n redelike jong crowd. Luide gesels – meesal vroue-stemme – wat die agtergrond-musiek komplimenteer. Daar sit wel hier-en-daar ‘n gen-X’er… wat die plek besprinkel soos growwe sout.
Marimain is nie so donker binne nie… min hout teen die mure. En min dekor… geen swart-en-wit geraamde fotos van mense nie…wel ‘n paar polaroids geplak teen ‘n bord.
Oop tot so 03:00 soggens.
Ek sit by die toog, en bekyk die jong kelnerinne met hulle swart hare en studs en goue ringe in die neuse en ore. Heel gepas bestel ek ‘n Orval.
Weereens word die geskinkte glas voor my neergesit (soos in Afsnis) – sonder die botteltjie! Ek roep die kelnerin weer, vra of ek my bottel kan kry asb, en sy bring dit.
Is dit ‘n jonger generasie-ding? Die bietjie minder ag slaan aan die ritueel van skink? Veral ‘n trappist bier? Hoe waardeer mens tog ‘n goeie klassieke bier sonder om die bottel (flesje) voor jou te bewonder? (My bierkenner-vriende dink dis ‘n ding wat begin kop uitsteek in Gent… en dalk ander groter stede. En hulle hoop nie dit sprei verder uit nie… hulle vra ook vir hulle botteltjie wanneer so iets gebeur…)
Ek wonder. Miskien is Marimain nie bruin genoeg nie.
Nietemin: Orval. ‘n Trappist wat deur monnike in die verre suidelike, Franssprekende dele van België gebrou word. Orval is ‘n jaar of twee gelede aan my voorgestel deur vriend Willem, Brussel.
Sommiges beskou hierdie as ‘n amber bier, ander sal sê dis blond. Spesiale smaak hierdie een, met sy unieke bottelvorm, sy goue kleur, en die legende rondom die vis, die ring, en die vallei van goud (OR = goud, VAL = vallei).


Geen “saluutjes” toe ek uitstap nie.
So 14km se fiets soontoe en terug.

Saterdag. Bruine kafee 6: Galgenhuisje

In die toeriste-area van Gent. Op die groentemark-plein – al sedert die middeleeue. Baie besig bedags. Oop van 09:00 tot 18:00. (Vreemde tye, ja. My nuuskierige navraag oor waarom sulke tye kry net ‘n skouerophaling met gelyktydige uitblaas van lug deur half-toe lippe.)
Lekker klein en beknop binne. Goeie musiek wat speel. Meeste besoekers sit buite op die terras. Ek sit binne by die trap, en bekyk die Amerikaners, Britte en Spanjaarde wat van buite af die toilet kom soek, die tipiese steil trap ondertoe een kyk gee, en ongedane sake weer omdraai.
Galgenhuisje is klein, bruin, en informeel. Maar is hy bruin genoeg?
Die tradisionele blonde Omer is aan my voorgestel destyds deur Gerrit in Ledegem. Dis vandag se keuse. Die verfrissende smaak maak op daarvoor dat die bier weer buite my sig namens my geskink is, en ek sien nie die botteltjie nie. Lieflike biertjie hierdie – nie ‘n trappist nie – maar sterk familie-geskiedenis uit Kortrijk se wêreld.



Seker omdat dit nog vroeg in die dag is, raak my fiets redelik buite fokus daar waar hy ‘n entjie buite die oop venster staan en wag.
Ek word “saluutjes” gegroet met my uitstap.
So 9km se fiets soontoe en terug.

Weer Saterdag. Bruine kafee 7: Trollekelder

Trollekelder is bruin, maar gepak. Miskien omdat dit Saterdagaand is. Boonop ‘n swerm geknetterde Hollandse rampartyers wat mekaar gereeld knuffel – hier is vanaand min rustigheid. Dit raas – en die drie ouens agter die toonbank (toog) is bedrywig.
Ek kry ‘n Rochefort Tripel – weer ‘n trappist deur monnike in ‘n klooster in die suide van België. Hierdie is sover ek weet die enigste blond wat hulle brou. Ek hou van die satyn-sagte tekstuur en spesery-tipe smaak… dit gaan goed saam met die hoes-sterk mostert van die portie gemengd wat my oë laat traan.
‘n Tipe bier hierdie wat mens alleen drink…
Sy donker broers (Rochefort 6, 8 en 10) word nog hoër geag – bierkenners geniet dit by kaggelvuur en dalk op ‘n koue Kers-aand.


Dis nogal warm binne. Mense sit oral – daar is tafeltjies in elke hoekie en draai. Lyk na verskeie “verdiepings”: onder, bo, middel.
Trollekelder is oop tot so 02:00 of 03:00 soggens, en skuins oorkant Dulle Griet, waar mens frietjes kan kry tot 01:00 soggens.
Die natgeswete ou agter die toog wuif vir my ‘n twee-vinger saluut deur die kafee-gedruis toe ek my baadjie aantrek met die uitloop.
Vir my so 9km se fiets heen-en-weer.

Kort voor lank is die week verby en neem my gepakte fiets my weer weg van Gent – rigting Wes-Vlaandere – teen ‘n fris wind in.
Die bruin kafees hou gedagtes besig… Daar is so 30-40 bruin kafees in Gent. ‘n Handjievol van hulle kan bestempel word as werklike bruin klassiekers. Ek kon maar by ‘n paar uitkom.
Ek wonder wat dit is wat sulke plekke so aantreklik maak. So spesiaal. En waarom is daar groeiende bewegings in Vlaandere (seker ander plekke ook) om klassieke bruin kafees regoor België te red van ondergang? Bewegings soos Kroegtijgers. Waarom wil mense dit behou vir die volgende geslagte?
Waarom hou ek daarvan? En waarom sou my pa daarvan hou (ek weet hy sou)? Of heelwat van my vriende/familie?
Is dit ‘n nostalgiese ontsnapping van ‘n wêreld daar buite wat heeltyd verander?
Of gaan dit oor die donkerhout sitkamer-gevoel? Miskien ‘n onbewustelike herinnering aan ouma en oupa se huis? Na heritage?
Menslike warmte… ritueel… ‘n sin vir samesyn?
Of is dit ook ‘n soeke na eenvoudigheid… onopgesmuktheid?
‘n Oer-hunkering na aardsheid?
Soos langs ‘n braai-vuur onder ‘n sterre-hemel in die Kalahari?
Fred Roux April 2026, Gent 🇧🇪