Spoorwegbus

In die tagtigs was ek student op Stellenbosch. Pa had nie ‘n kar nie, en ry-geleenthede met vriende of familie was skaars. So wanneer die kans kom vir huistoe gaan – vakansies of sommige langnaweke – moes mens die spoorwegbus gebruik om op Laaiplek te kom.

Wat ‘n belewenis was dit nie. Noudat mens terugdink.

Dit was eers omtrent 2 ure se ry met die trein van Stellenbosch af Kaap toe. Op Kaapstad-stasie vroeg genoeg wees om ‘n buskaartjie te kon kry… en van ‘n tiekieboks te bel (daar was rye van hulle teen die mure in die stasie) – om te laat weet ek kom. So dit moes gewees het seker so eenuur  se kant uit Stellenbosch vertrek… nege-uur die aand op Laaiplek.

Dit was ‘n ander wêreld – daardie tyd.

Ou Japie was die kondukteur. Kort, maar stewig gebou… rooierige hare… sproete… effe bles… Vriendelik en geselserig. Altyd kortbroek gedra aan diens. Kort spoorwegbroek, met natuurlik die kort vaal spoorwegbus-jas bo-oor. Hy’t daar in Velddrif duskant die skool gewoon…. sy tannie-hulle of iemand van hom het gebly in “Sattuglind” (Sutherland).

Latere jare, na sy aftrede, het mens hom soms in die dorp gesien met sy dikwielfiets oppad winkel toe of so. Steeds aan die groet en gesels met almal.

Die busbestuurder – Japie se kaptein – was so ‘n skraal, skerp, blondekop-mannetjie. Met ‘n bruin kos-koffertjie, geldkissie vir kaartjies op die klein optel-plekke, ‘n liter glasbottel Coke, en sy vaal jas en lang sokkies wat nooit afsak nie. ‘n Outentieke langpad-busbestuurder soos in die ou dae:

Stug.
Verantwoordelik.
Stiptelik.
Streng.

Hy’t daai bus met ‘n ysterhand regeer.

Ek onthou: eenkeer was daar ‘n jong dame op die bus met ‘n kaartjie van Kaapstad tot Langebaanweg. Op Hopefield – die laaste stop voor Langebaanweg – het haar mense opgedaag – as ‘n verrassing – om haar vroeër op te tel… dat sy die laaste ent Langebaanweg toe saam met hulle in die kar kan ry.

Busbestuurder het botweg geweier om die dame te laat afklim of dat Japie haar bagasie mag uithaal…. later het die gedoente ‘n redelike onsmaaklikheid afgegee…. maar kaptein het vasgestaan: sy passasier het ‘n kaartjie tot in Langebaanweg en dis sy plig om haar af te laai in Langebaanweg en NIE voor dit nie!

Dit het daai mense gekos terugry met hulle kar… en die dametjie dikbek verder saamry op die bus.

(Jare later het die spoorwegbus natuurlik verdwyn… en daarmee saam die dissipline… en betroubare vervoerdiens wat die Weskusmense gehad het Kaap toe en terug.

Ek’t op ‘n stadium gehoor die blonde bestuurder het in Vredenburg gaan werk… een van die plaaslike tipe Golden Arrow-busse tussen Saldanha-Vredenburg of so. In die laat negentigs was daar ‘n kort beriggie in die Weslander dat hy in ‘n bus doodgeskiet is.)

Nietemin…

Ek wonder hoeveel kere daai bus met sy bemanning van twee my Vrydag-aande by die laaste stop oorkant Laaiplek polisiestasie afgelaai het nie.

Na die katarsus van vyf… ses  ure vanaf die stad. Die plekke, die mense. Klanke. Reuke.

Werklik elke keer ‘n aanskoulike ervaring vanaf stiptelik 16:00 se vertrek uit die besige Kaapstad-stasie (die onderkant)… dan boontoe op die stasie se dek om die volk op te tel. Altyd ‘n lewendige stopplek – iemand wat hom vererg vir iemand oor verkeerde kleingeld. Of iemand wat vir iemand te veel jare laas gesien het en eers wit-tand moet groet en gesels terwyl Japie die sleepwa wil sluit maar die bagasie kom nog. Ja – die mense is uitbundig – want dis langnaweek, die bus idle so mooi soos hy gereed staan, en ons gaan mos huistoe!

Dan tree-vir-tree die Vrydagmiddag spitsverkeer op die N1… stadig en besig…. afrit Pêêrre-eiland… nog verkeer verby Blouberg, dan die Weskus-pad wat begin oopmaak Melkbos se kant toe. Later regs afdraai – rigting Atlantis – kort stop … dan Mamre – nog mense optel. Minder verkeer.

Boude nou al bietjie styf van die harde bus se regop bankies.

Dan Darling – nog mense… regte mense – met hoede en skrefies-lag-oë en Swartland aksente  … by nog gehuggies stop… sandpad….moeg gereis al… minder ander voertuie op hierdie pad…. en die son sit nou al laer.

Radio Goeie Hoop op blonde-man se FM’pie wat langs die stuurwiel hang word nou aangesit.

Mettertyd raak dit regte egte Weskus-sandpad…. dat die bus soos ‘n wafferse skuit daai sand soos deinings klim… ander kant weer neus-eerste af… die bestuurder se seat suspension laat hom styg en daal… styg en daal, soos die bus en sy vrag mense die sand-hobbels klim. Sand-myl na sand-myl. Nuus op die radio oor midde ooste-oorlog en bosbrande in Spanje word gelees deur Alan Barnard, terwyl Japie staar na die plaas-naambordjies wat een na die ander verbygly: Jan Zwarts ValleiKnorhaansrugVygekraalVolstruisfontein… Busbestuurder se sonbril blink oranje in die laatmiddag lig. Waar sou die blonde man se gedagtes nou wees…?

Terwyl die volk agter die skeidingsmuur kuier – hard kuier – want dis mos Vrydag… en die blankes hier voor gesels en eiers en pies eet…. en die groot sleepwa agter met ‘n gesig vol sand eensaam kreun van die vrag, maar aanhou saamkom. Soms by posbome stop waar Japie met leer-possakke afspring in die dik stofwolk …. soms ‘n enkeling by ‘n stasie-boom optel…. terwyl die son links ver, doer ver…. oor Agterbaai begin sak.

En steeds aanhou ry. Aanhou noord.

Met elke wegtrek of spoed-verandering wikkel kaptein die kort gear-lever met die koeëlronde hout-knop skuins voor links van hom (op die dash). Hy shift hom net met twee vingers, baie easy (outomatiese clutch mos), en dan sak die bus se neus so effe terwyl die engine heuning-glad sy tune bietjie lig… en dan weer ‘n lae brul soos die bus se agterwiele weer vastrap en vet gee in die nuwe gear. Terwyl almal in die bus se bolywe subtiel saam met die gerusstellende ratwisseling beweeg – vorentoe en dan weer terug – en almal selftevrede na voor deur die groot windscreen staar… want netnou… later…. doem elkeen se tuisdorp daarin op.

Pragtig.

En dan vroegaand… uiteindelik weer teerpad kry – die lang stuk grootpad van Malmesbury na Vredenburg. Links draai hier na Hopefield – reguit in die sononder in. Wes.

Die bus se bande klink vreemd beskaafd na ure se grondpad. Inswaai by die dorp, oor die spoorlyn wat loop na Bergrivierstasie. ‘n Groot stop by die kafee in die stil Hopefield… by die bloekombome… vir omtrent ‘n halfuur.

Bietjie later… al donker … met die bus se massiewe ligte wat die pad tot doer ver ligmaak… aanstryk verder.

Uiteindelik Langebaanweg: by die stasie ‘n klompie aflaai… dan ‘n swierige S-draai terug na die stil grootpad vol haas- en bok-oë wat blink. Elke kar wat verbykom (daar was min daai tyd) ‘n besprekingspunt tussen Japie en sy kaptein – hulle gesigte nou net effe sigbaar in die flou kajuitliggies: wie was dit… waarheen gaan hy dan nou…lewe sy ma nog….

En dan… terug op die Weskuspad… die R27… verder noord. Bus basies leeg nou… stil… en kaptein se FM’pie is nou af. Oor die Kop…. anderkant afsak terwyl Velddrif se liggies soos ‘n sprokie wyd oopmaak in die verte – van De Plaat heel regs tot meer links na die treinbrug, die Flêtsis, Pampoengat, en Laaiplek by Die Bek. Jou hart word weer onkant betrap. Soos elke keer.

Dit lyk na mis daar na links in Laaiplek se rigting. Dis nou al halfnege… en die lug begin anders ruik… Weskus-reuk….. skoenlappers raak los in mens se binneste.

Die wye pad is verlate en donker. Net die kat-ogies wat blink in die bus se ligte, en regs in die verte die maan wat opkom anderkant Piketberg. Mens dink weer aan van die ander passassiers wat al afgeklim het… die oompie met die netjiese kerkpak en kolgans-veer in die hoed wat by Mamre opgeklim het om by sy broer se begrafnis uit te kom. Deur die busvenster gehoor hoe kaptein uit sy hoë sitplek aan oompie buite waarsku dat dit nog ‘n paar uur se grondpad-stap is van die afklim-boom tot die plaas waar hy wil wees. “Nee – dis geg, mineeg. Ek loop onnig die ligmaan“.

Of die ronde, kloekende tante met die groot handsak vol hartseer wat by Hopefield afgeklim het. Sy was ‘n week by haar dogter in Bothasig… om uit te help na die se miskraam… want “dinge gaan nie te lekker nie”…

Sal mens die mense dalk weer op die spoorwegbus raakloop… ‘n volgende keer?

Oor die Sishen treinbruggie, en dan sak die bus die laaste entjie af verby die soutwerke waar die teerpad nouer word. Dan… oor Carinus-brug… lyk na laagwater. En dit raas kras-uitbundig by Kiewiet se bar – soos net visser-mense klink. Regs hier… verby Smit-broers – hulle is al toe… links net na die skool. Ry om die blok… hoot vir Japie se mense by die huis… want Japie kom nou-nou! Daai bus se hooter word verseker die hele Velddrif vol gehoor… almal wat wil weet, weet dis nou skuins voor nege Vrydagaand!

Ek’s die laaste passasier. Laaiplek toe. Dik mis by tôt-heuwel af… Laaiplek is weggesteek… die pad doodstil. By die bankhuis grawe ek my sak onder die sitplek uit, want afklim is NOU – die twee manne daar voor wil klaarkry.

Die bus maak ‘n wye omdraai voor die polisiestasie…. stop op die oop stuk wit-skulpie-grond (daar waar Pep deesdae is). Ek gryp my rugsak… spring met styf-gesitte bene af met die trappe… besef weer hoe hoog die bus is. Die twee groet my met ‘n lang “Gaaaiiit!“…. en die bus trek weg met sy kenmerkende klank… verdwyn in die mis terug Velddrif toe. Ek staan ‘n oomblikkie – kyk agterna: by die pastorie verby hoor mens hom nog… maar sien nie die sleepwa se rooi agterliggies meer nie. ‘n Leë, moeë bus met twee stug-moeg mense op.

Stap nou in Jameson-straat af – met sy oranje ligte wat vergeefs die mis prik – Stephanstraat toe… nege-uur. Doodstil – niemand in sig.

Is oom Jannie se venster nog oop daar by die hotel?…. Mmmm.. ja, lyk so. Maar die bar-counter lyk al leeg.

Kan nie deur die mis sien of die fabriek se lang skoorsteen dalk ‘n rokie maak nie… maar mens hoor die kenmerkende masjienerie-dreun: die canning loop!

Dit was ‘n lang stuk tot hier. Maar dit moet. Dis gepas so. Want Laaiplek is ver – bitter ver – van Kaapstad. ‘n Ander wêreld ver.


Fred Roux
Julie 2020

Site Footer