Fluit-fluit

30 Julie 2022

My pa verjaar vandag. Sy 4de weg van ons.

Ek onthou hom vroeërjare… in sy 40’s en 50’s …. met sy rooi hare, sy flink regop stap, die tatoeërmerk op sy ambagsman-voorarm, en sy fluit.

Musiek was sy groot liefde. Kwaliteit, authentic musiek.

En goeie klank. By hom het ons geleer van Pioneer, goeie mooi bas, hoe versigtig mens jou LPs hanteer, en saggies op ‘n houtvloer loop op ‘n Saterdagaand sodat die naald nie spring tydens Elvis se aangrypende Wooden Heart nie.

Maar ek dink musiek was sy manier – sy meganisme – om sy liefde vir die MOOI uit te leef. Amper soos ‘n kunstenaar se skilderkwas. Hy het van nature – sonder om dit self te besef seker – die vermoë gehad om vriende en familie saam te snoer om ‘n lekker klompie Vrydagaand-nommers.

Of kon op ‘n Sondagmiddag alleen ‘n melancholiese oldie opsit wat ons seuns elders in die huis laat stil word en wonder wat is dit aan die klanke wat mens se hart so kan ruk. En dan om die deur loer… terwyl Jim Reeves in sy pragtige stem sing:

Sometimes I ask why I’m waiting
But my walls have nothing to say
I’m made for love, not for hating
So here where you’ve left me, I’ll stay

…en daar sit Pa… in stilte vooroor en luister terwyl hy ver by die venster uitstaar…

Of mens kon hom soms laat weeksaande in sy garage vind – saggies fluitend saam met sy radio – terwyl hy net staan en staar oor die mistige donker Stephanstraat.

Ma het altyd gesê hy scheme.

Maar ek dink hy was diep in sy praktiese hart…. ‘n opperse romantikus.

Hy was nie ‘n digter of skrywer of skilder nie. Maar deur sy musiek en sy radio en sy fluit het hy ons almal gefokus op ‘n sekere lewensuitkyk.

Happy birthday, pa.

Site Footer