Laaiplek

Die Weskus…

In my tweedelaaste hoërskooljaar het ons armerig en sukkelend verhuis (vir die soveelste keer) vanuit die Kaapse voorstede na hierdie onbekende, vaal ou winderige, vis-stink dorpie waar die Bergrivier sy see vind.

My pa het in die visfabriek gaan werk, en ek en my broers moes tussen vissermanskinders skoolgaan en vasstrapplek vind.

‘n Diepe ervaring en groot verandering vir ons hele gesin, waar ons ‘n werklik unieke gemeenskap teëgekom en leer ken het. Harde mense, wat hard praat en hard vloek.. ‘n ander taal praat, ‘n ander kultuur het. Met hemelblou oë  wat deur ‘n dik misbank tot binne-in jou hart kon sien.

By die riviermonding (“Die Bek”), waar die visserskuite kon in- en uitvaar, was daar in reuse-groot wit letters uitgespel “‘N BETER TOEKOMS IS VIR ONS GESKEP“.

Ons oë het oopgegaan.

Ons het ons verwonder aan die mense- en omgewing-skatkis. Geleer van skippers en soutvis en veldblomme en vismeel. Die treinbrug, die flêtses, die spreeuwalle en staalskuite met dekvrag. Wind en mis en sand met Bokbaaivygies in. En name en  byname en karakters en mense… besondere mense.

Ons het ingesuig geraak. Deel geword.

En moes met diep verlange later weggaan.

Ek gaan deesdae gereeld terug soontoe. Dis nie meer dieselfde nie, die mense is weg of uitgesterf, andere het ingekom, en die plek het verander…maar die reuk , die wind, die rivier, die veldblomme, die see … vertel nog… as mens mooi luister.

En soms – tog soms – loop mens ‘n ou bekende raak.

Somersuidewinde

Die lewe raak ‘n moerse klug;
En stadsgejaag word nou te veel.
Pak my goed – ek gaan nou terug
na waar see-gety die Berg se strome reël.

Laai my af waar somersuidewinde sand opwaai;
waar lentevygies menseharte wit deurweek.
Waar noordewinde opstaan teen die ou fabriekskaai;
en in koue, digte mis ‘n dorp versteek.

By die toekomsmuur wil ek kruise van gestorwes kry;
‘n swart staalskuit trots sien uitvaar in die skemeruur;
Om vroemore vol-pens voor die Bek te wag vir hooggety;
wyl vissermansoog na Rooibaai tuur.

Ja! Draai sommer die tyd ook terug;
Met ‘n dekade of vyf of so;
Toe ons almal nog hier was, en nog min van oor die brug;
Wie sal ooit al ons stories glo?

Laat daar weer galjoenbraai wees;
en kabeljou-byt snags by Soverby.
Vars harders op ‘n weeksoggend ‘n hengse fees
En kinders kon hope veldkos duskant Pampoengat kry.

Trek vir my weer ‘n donkergrys skoolhemp aan;
En laat ek my hart verloor aan ‘n blondekop matrieknooi;
As die springgety-maanlig deur haar hare gaan;
sal ons wens-klippies vanaf die bo-rivier se rietwalle gooi.

Vandag raak ons plooie meer en die oumense min
En die weskus-aksent begin kwyn
Carosini, Brand, Smit en Dipoala.
Eigelaar, Thiart, Tallie en wie nog ook.
Mag die erfenis tog nooit verdwyn.

Ja! Mag die byname vir altyd voortleef.
Mag die wewenaar se wit Italiaanse kuif nog lank in die Noordwester lig.
En mag die heuningtante se knolvingers aanhou mosbolletjies knie.
Terwyl branders van die westekant af sug.

Van Lamberts- tot by Agterbaai
De Plaat tot by Klein Tafelberg.
Here magtag, plek! Ek mis jou erg.

Fred Roux
Mei 2015

Site Footer