Natuur en mens

Vanaf Vanrhynshoek, agter in die Hantamberge, neem ons ‘n tweespoor-pad deur plaashekke hoër die berge op.

Dis erg koud, hewige wind, maar die veld is mooi – met geel katsterte, damme water, en pers froetangs al langs die Manelsberg op.

14km verder en 500m hoër eindig die pad… in ‘n wind van 7-8 bft, by die prominente Noord-Kaap kommunikasie-toring van Sentech. Manjifieke engineering sekerlik.

Onbeman staan hierdie toring. 214m hoog vanaf die 1600m berg (in die Noord-Kaap is net Sutherland hoër), jaar in en jaar uit, gestut met ongelooflike kabelwerk teen die elemente, en dek FM-transmissies, mikrogolwe, en allerhande tipes kommunikasies honderde kilometers ver.

Ons draai, en sak later rem-rem terug af na die huis op die plaas waar ons bly, Hantamland. Waar Oupa Elias Albertus Nel, van Ceres, byna 100 jaar terug vanaf Calvinia oor die Hantamberg gestap het… om die plaas te kom koop.

Amazing hierdie Hantam. Natuur en mens…

   


				

Site Footer