
Die papiertjie met Peter en Anneke Vos se adres sal nog ‘n tyd lank op my fiets bly…
‘n Momento.
Van twee mense. Wat so gasvry ontvang in hulle huis… waar die lentetuin nou ontwaak, en die somervoëls in die bome begin arriveer.
Mense wat hartlik gesels. Met – soos baie van ons maar – drome, ideale en hoop vir hulle kinders wat reeds die ouerhuis uit is.
Mense wat hulle etenstafel en huis deel met verby-reisende vreemdelinge op fietse (via die VriendenOpDeFiets -beweging).
Mense wat met ‘n vonkel in die oog luister en praat. In hulle mooi Hollands. En ook deel in die wel en weë van ons lewens.
Peter nader sy aftrede na ‘n leeftyd in die installasietechnik-bedryf. Anneke is ‘n kunstenaar met akrielwerke en gedigte wat mens stil maak.
Wat fijn dat dat ik je gast kon zijn.
Anneke –
Dankie vir die terugdraf en my waterbottel volmaak toe jy met my vertrek opmerk dis leeg. En die vrugte waarmee jy uitgehardloop gekom het. In die reën.
Ek weet – soos jy sê – ons sal nooit weer ontmoet nie.
Maar ek sal – wanneer ek ookal ‘n windverweerde paaltjie by die see sien, dink aan Anneke Vos. Van Middelburg. Doer in Zeeland.
Groetjes aan Peter.
“In mijn schilderijen zijn het strand, de strandpalen, zee en luchten een grote inspiratiebron voor mij.”
– Anneke