‘n Dag of wat se oorbly naby Schiphol. In die buitewyke van Haarlem. Bloemendaal.
Teen laatoggend raak koffie en ontbyt nodig. Stap uit met reënbaadjie en serp – dit kan ‘n entjie wees – hierdie is nie high-street area nie: besige hoofweë en fietspaaie. Dis al. Nie eens behoorlike voet-oorgange nie.
Google lei my na Koffiehuis De Rotonde – een van die min plekkies hier rond.
Ek maak die deur oop, en tree 1970 binne. Met die intrap-slag vra die groot blonde vrou agter die toonbank Hollands-bombasties: “Goeie morge – wat wil je drinken?”
“Een koffietje alsjeblieft”, terwyl my oë ‘n oop tafeltjie vind. Sy bring die swart filterkoffie blitsvinnig – geen Americanos of Espressos hier nie – en vra luid wat ek wil eet.
“Uitsmijter, alsjeblieft”, hoor ek myself benoud sê.
“Groen by?”, vra sy. Te oordeel aan die tipe ouens wat by die ander tafels sit, besluit ek dis nie die plek vir slaai (“ggoenn goetjies” soos die mense in Laaiplek sê) nie.
Die uitsmijter neem nie lank nie. En dis behoorlik.

Ek eet vervaard en opstandig aan die manjifieke kaas… ham… spek. (Waarom kan ons nie in SA hierdie gehalte kry nie!?)
Rondom my drink die ouens meesal warm melk – nie koffie nie. Wit glase staan die tafels vol. En hulle kom en gaan. Almal ambagsmanne, bouers, tegnikusse. Verf-bespatte werksklere. Stewige skoene met kevlar voorkante.
Geen vroue nie. Net drie pensionaris-gryskoppe wat eenkant agter die pin-ball masjiene sit en die res bekyk… half verlangend… na ‘n tyd…

Sommige ouens wat inkom is bot – groet niemand en gaan sit. Ander kom in en groet luid die hele tien tafels. Niemand bestel van die spyskaart af nie – weet wat hulle wil hê met die intrap. Kip-soep, bal, snert, uitsmijter, tosti met paardenworst,…
Geen agtergrond-musiek nie. En niemand is op hulle fone. Fone word net uitgehaal om videos van vurkhysers te wys.
Buite storm die verkeer en fietse op die nat paaie.
Google het my vooraf gewaarsku dat die blondine my moontlik sal verja as ek ‘n laptop sou oopmaak – so ek speel veilig. Ek gaan kry die koerant en ‘n bril by die toonbank. Blondine kom met ‘n koffiepot om en hervul my koppie. Ek komplimenteer die uitsmijter. Sy “graag gedaan” terwyl sy luid na die nuuste inkommer by die deur roep en vra wat hy wil drink.
Dit raak middagete se kant en nog meer paneelwaens stop buite – werksouens stroom die plek binne… honger mae… koppe wat nog dink in millimeters en pypdiktes.
Ek is verdiep in die berig oor vars-produk skaarstes op plaaslike winkelrakke weens die koue weer hierdie week. Blondine neem my bord en koppie en rammel vinnig iets af oor “niet lese” en “tafel” en nog iets. My ervaring en bietjie Hollands en read-the-room kapasiteit is net-net genoeg om my betyds te laat snap dat ek nou nie meer welkom is nie – die tafel word benodig.
“Ja-ja, ek gaan nou loop”, probeer ek braaf reageer, en trek my baadjie aan en betaal kontant.
“Oeei! Fijne dag!”
Ek trek die deur agter my toe, en sit my baadjie-kappie op teen die reën.
Ek sal weer kom. As die lewe toelaat.
