Wind en sand. Wind en klip. En mense.

Na 18 dae op die pad sak ons finaal deur die Knersvlakte af. Clanwilliam se kant toe. Met kortmoue.

Half moeg, half iesegrimmig – nie gereed vir verkeer en die skielike warmte hier nie. Die bakkie loop op H2 die stuk teerpad vol jaagduiwels – daar was nie vandag moed vir die pragtige stuk grondpad oor Botterkloof soos laasjaar nie. Dit sal stof wees daar. En moedhou.

Die laaste stukkies vuurmaakhout op die dak maak oppad plek vir sakkies lemoene. Laaste aand se vuurtjie lê voor. Môre oggend laaste oppak en dan afsluit met die stukkie grootpad huistoe. 

18 dae van min mense, weinig blomme, bietjie wolke, oneindige diep-blou hemels, godverlate vlaktes met eindelose stofpaaie, bytende koue … en wind. Wind van voor, wind van agter, bakkie-ruk sywinde, wind waaroor almal praat, en storm nagwinde wat vensters en deure in ons stikdonker, lieflike plaashuis-oornagplekke klap en bespook. 

Ja. Nege slaapplekke oor die 2600km boog-roete, met sonsak-braaivure en handevol Hantam en Kalahari rugtjops. Tierhoek wyne en Namakwaland roosterkoek. Brakwater, koeksisters, bruinkos, patats en handgemaakte konfyt. En Upington droëwors. 

Ons het weer baie gesien. Baie beleef. Van die rowwe weskus se “wind en sand en diamant-droom”-weeskind-mense, tot die harde Boesmanland se wind en klippe en eenvoud-mense. En die agter-Hantam se “hand vol gruis”-mense. Hoogtes met asem-wegslaan uitsigte. Skrefies-oë bossie-vlaktes met diep inasem ruimtes.

Ontelbare kere gestop. 2800 foto’s geneem. Bietjie minder as laasjaar weens die wind. En koue. Die goedjies kruip weg. Maar Cecile kry klipsprinkane, toktokkies, langneusvlieë en koekoekwespes. Bont honderdpote en byvlieë, fluweelspinnekoppe. ‘n Swart Knopie en neongroen Huidjiehu’s.

Koningkopervlerkie teen die berg by Jan Disselsrivier (naby Clanwilliam)
Huidjiehu op Middelkraal (naby Garies)

En Woestynsewejaartjies, Froetangs, Katsterte en gazanias. Koekemakrankas en stekelrige vygies. Skaars surings en Bobbejaantjies.

Bokbaaivygies bo-op die Hantamberge

Hoogste punt op 1600m by die Sentech-toring op die Hantamberge. Laagste op seevlak By Hondeklipbaai se wrakke en gebroke hawe.

Aristea-wrak by Hondeklipbaai

Twee nuwe agtershocks, ‘n gekraakte voorruit, ‘n paar tenke diesel, ses ongeskonde bande, een gebreekte bierbotteltjie, en ‘n bak vol stof. 

Leiklip-paaie in die Boesmanland. Ry maar met ekstra spaarwiele

Maar wie tel nou? Die bakkie kla ook nie.

Wat eintlik tel… is die mense. Mos-kombersie mense. 

Die gasvroue by die oornagplekke en padstalle… met hulle stories… hulle hartsere en hulle memories. Die mense langs die pad: uitgelate stadsvlugteling-kinders wat beeste aanjaag deur Diepe Kloof, die knapie en sy ma tussen die Swartkop-modderhuises wie ons rigting gewys het na Brandvlei toe sein en padkaart lankal opgeraak het, Nieuwoudtville se roosterkoek-vroue (“dit help nie om te kla nie want die klagteboks het nie ‘n slot nie…”)

En die verbygaande plaasbakkies wat myle ver in ‘n wolkie oor die horison aankom en later met ‘n vingerlig-groet van voor verbygly en vir ewig in ons stofwolk wegraak. 

En ou vriende en kennisse.  Wat mens weer sien. Weer kuier. Saam eet. Bietjie opvang. Saam lag. Bietjie huil. Sommiges nie sien nie – afstande is groot – maar darem die stem laat hoor waar daar sein is. Kobus, Magrieta, Dap, Charmaine, Ida, Sanette, Johan, Celeste, Poen, Dirk, Rieks, Elzaan, Klaas…  Dieselfde oë. Dieselfde hart. Net ‘n ekstra plooitjie miskien. 

Tot volgende jaar weer, dan – na die somer sy draai gemaak het. Hopelik nie te wreed nie. 

Laatmiddag Loeriesfontein

Ja. Teen die laaste aandvuur by Jan Disselsrivier bokant Clanwilliam – waar die uil roep en die paddas raas – wonder mens nogal (oor ‘n glasie Rosé): reise na verre lande en grote stede is goed. Treine en museums en vliegtuie en tale en kulture… alles baie ordentlik seker.

Maar die grondpaaie van die noordweste hier loop wyd. En ver. Miskien dieper as enige vliegtuig-reis.

Dis groot genoeg. Koud genoeg. Warm genoeg.  Taal genoeg. Kultuur genoeg. Mooi genoeg.

Ja. Diep genoeg. 

Tot weer…


Fred & Cecile
Jul-Aug 2026
Weskus-Sandveld-Namakwaland-Kalahari-Boesmanland-Hantam-Sederberg

Site Footer